Ek is nog steeds bly oor die reg kry van die app sovêr. Is ook bly want ek het gister met Carel gaan praat en hy het ingestem dat ek Dinsdae kan af kry. Dit gaan baie beteken, want ek doen baie keer meer op ‘n Sondag wat ek af het, as ‘n hele paar aande in die week na werk. So as ek dit nou twee keer per week kan doen, is dit twee keer so goed.Oor die oortyd wat ek gaan verloor is dit nie so ‘n groot problem nie. Hopelik werk Sibongile se salon, dan kan ek die oortyd wat ek gaan verloor daar cover. Lang storie kort, ek gaan vir haar daar geld gee om ‘n salon te begin, nie baie nie, so drie duisend rand. Ek hoop om so drie duisend rand ‘n maand terug te maak. Net vir ‘n jaar, dan kan sy die salon hou. Daar is net so ietsie in my wat sê ek kan haar vertrou. Sal later weet en laat weet.
Anita sms my laas Vrydag en maak of die hele ding is oor sy my verjaarsdag vergeet het. Asof ek so sal optree oor sy my verjaarsdag vergeet het, ek is nie ‘n kind nie. Dit gaan daaroor dat sy my “gestood up” het. Ons sou iets gaan eet het, en sy het my gedrop vir daardie jonkie wat so kan lawaai. Dis waaroor dit gaan. Nou bly sy weg. Sal sien of ons weer mekaar sal sien. Amper seker ek het haar in Checkers gesien nou Dinsdag. Vinnig spore gemaak want ek is nie lus vir die issue nou nie. Kom ons kyk wat gebeur. Ek mis haar nogal.
Hier is die plan met die eet: ek eet nou elke dag, behalwe Sondae, Dinsdae en Saterdae either broccoli of cauliflower laat in die middag. Dis al, dan niks in die aand nie. As dit op is begin ek spinasie eet. Die ander drie dae eet ek vleis. ‘n Lekker stukkie vleis wat ek vir my maak, ‘n treat soos net ek dit vir myself kan maak. Die rede hoekom ek dit daardie drie dae doen, is omdat ek dan vroeg by die huis is en dit kan maak en nog steeds nie laat eet nie. Die doel van die oefening is ek wil net net onder 80kg uitkom. Dan hou ek my gewig so. Is nou net so oor die 94.