Ja ‘n klomp goed gebeur in ‘n week. Baie goed. Die grootste ding is die SPAR waarvan ek deel is het Saterdagoggend afgebrand. Heeltemal. Die vuur het ontrent so twee uur die oggend begin, want Carel is so half drie gebel en gesê daar is vlamme. Toe het hy vir Jako gebel en vinnig was almal daar, behalwe die brandweer. Waar en hoe hy begin het weet ons nog nie. Nina en Coen Poen was ook hier die lang naweek, van Saterdag tot vanoggend eers gery. Met my wat Saterdag een uur al by die huis gekom het was dit ‘n lang kuier. Veral met Coen Poen wat so aan die suip kan gaan. Ek is baie lief vir my boetie, maar hy kan my irriteer as hy so gesuip is. Dis seker die grootste probleem wat ek het met sy gesuipery, hy begin kak praat en dan werk hy op my senuwees. Seker omdat ek nie drink nie en nie op sy vibe is nie.
Verder ook die laaste week gebeur, of laas week, Jowi was bietjie by my. Lekker gesels. Sy wil terug gaan Johannesburg toe, Roodepoort om presies te wees. Eers volgende jaar. Hoop vir haar dit is die regte besluit, sal maar sien of dit gebeur. Ek stem nie saam met haar dat sy vir Lee Anne na haar ma toe stuur om haar drome na te jaag nie. Byt nog drie jaar vas en begin dan met haar lewe. Maar nou ja, dis ek.
Met die doele en drome boek gaan dit nogal goed. Ek sien die dinge waaraan ek baie dink behaal ek baie sukses. Die dinge wat ek afskeep soos die gewig sukkel ek mee. Die app byvoorbeeld gaan dit goed, ek kry dit reg, is nogal heel op track om alles daar reg te kry soos ek dit geskryf het. Nog genoeg tyd om die groot doel te bereik, en dit is om mense te hê wat hom gaan gebruik teen einde Oktober, vyf van hulle om presies te wees.
Daar is net die laaste groot ding wat ek moet reg kry, dan kan ek hom oorbou na ‘n nuwe een toe wat ek op die Google Play Store gaan sit. Dit is om die order te omskep in ‘n email intent, en hom dan te mail. Ek is nou besig daarmee, en ek gaan dit in die week doen, dan kan ek die naweek begin om hom oor te bou. Teen volgende week moet dit klaar wees.